Afrikaans in Argentinië

Boere op die Aardsdrempel / The Boers at the end of the World (2016)

Prys: Tans R119 op Takealot.com

Boere op die Aardsdrempel is ‘n besonderse film. Alhoewel dit ‘n dokumentêr is, sal dit enige kyker aangryp.

Hierdie film spoor die afstammelinge van ‘n groep Afrikaners na. Wat na die Anglo Boere-oorlog (1899 – 1902) na Patagonië in Argentinië geemigreer het. Die film ontgin dus ‘n minder bekende narratief van die boere ná die afloop van die oorlog.

Agtergrond

In 1903 het ʼn groep Afrikaners per skip na Argentinië geemigreer. Die Argentynse regering het tydens die oorlog perde aan die regering voorsien en hulle het te hore gekom van ʼn groep boere wat nie onder die Britse regering wou bly nie. Die Argentynse regering was bewus daarvan dat hierdie mense vaardighede besit wat voordelig vir Argentinië se landbou en ekonomie kan wees en daar is vir hulle grond gegee waar hulle met skape kon boer.

Dit is interessant dat daar soveel ooreenkomste is tussen die Karoo en die algemene landbou probleme in Suid-Afrika wat ook vir hierdie Argentynse Afrikaners ʼn werklikheid is. Die droogte, die weersomstandighede wat die boerdery kwel en die ontvolking van die platteland.

Afrikaans in Argentinië

Daar word baie interessante aspekte rondom Afrikaans as taal, taal as identiteit en die kontekstuele identiteit van die “Afrikaner” aangeraak in die film.

Eerstens is dit verrassend dat daar ‘n gemeenskap Afrikaanssprekendes in Patagonië woon. Die taal word grootliks onder die ouergeslag gebruik as omgangstaal en dit is hartseer dat die kinders en kleinkinders nie juis belangstel om die taal te leer nie.

Daar was betreklik min inligting beskikbaar rondom hierdie mense se bestaan en hul taalgemeenskap, voor die Boere op Aardsdrempel projek begin is. Daar is gedurende die navorsingstadium van die projek ondervind dat die gemeenskap slegs Afrikaans praat en amper niemand meer die taal kan skryf nie, en slegs ʼn paar kan dit nog lees. Dit was deur middel van ʼn Faceboekblad van Thenis “Ty” Dickason se seun, Ruben, wat die navorsingspan aanvanklik kontak gemaak het met die gemeenskap.

Professors Andries Coetzee, Nicholas Henriksen en Lorenzo Garcia-Amaya, is navorsingsgenote van die Universiteit van Michigan se Linguistiek Departement  en het ook ‘n bydra gelewer in die film ten opsigte van linguistieke navorsing. Hierdie gemeenskap in Argentinië in is ‘n uiters interessante linguistieke gevallestudie, omdat hulle Afrikaans anders klink as dié hedendaagse Afrikaans wat in Suid-Afrika gepraat word. Dit stem grootliks ooreen met dié vorm van Afrikaans wat in 1903 saam met die Boere Argentinië toe gekom het. Vir die ingeligte kyker sal die Nederlandse fonetiek opmerklik wees.

‘n Baie interessante aspek wat Prof. Coetzee na kyk is die eienskappe van hierdie Afrikaans wat feitlik in isolasie oorleef het, saam met Spaans. Asook dat die taal buite die konteks van Apartheid gefunksioneer en voortbestaan het. Dit is baie interessant om hierdie mense se perspektiewe op Suid-Afrika te hoor en wat hulle emosionele verbintenis tot die taal is. Baie van die individue verklaar in hul onderhoude dat hulle hulself meer Afrikaans voel as Argentyns. Sommige voel weer hulle is eerste Argentyne en dat Afrikaans net deel is van hul erfenis.

Enriqueta van der Merwe speel die konsertina.
Enriqueta van der Merwe speel die konsertina.

Familie en kultuur

Die tweede aspek is dié van kultuur en familiebande. Dit is ‘n universele aanknooppunt dat families oor die verloop van 100 jaar so ver van mekaar versprei het en dat die ouer familielede die behoefte het om kontak te maak met hul familie in Suid-Afrika.

Die Dickason-familie is een so ʼn geval waar die een neef in Sarmiento woon en die ander in Kaapstad. Die film volg vir Thenis “Ty” Dickason en sy seun Ruben waar hulle saam met die Schlebusch-egpaar na Suid-Afrika reis. Die produksiespan van die film het gehelp om geld in te samel, sodat Ruben sy pa kon herenig met sy neef Cecil Dickason van Kaapstad.

Die film volg dan die reis wat Juan “Jan” Schlebusch en sy vrou, sowel as Thenis “Ty” Dickason en Ruben deur Suid-Afrika onderneem. Hulle besoek verskillende dele van die land wat vir hulle familie betekenis het.

Van hierdie Argentynse Afrikaners het wel terug gekeer na Suid-Afrika. Dié families was die geleentheid aangebied om terug keer na Suid-Afrika in 1938. Die beweeg rede vir baie word verwoord deur een van die Dickason niggies: haar vader was van mening dat hulle hul kultuur en godsdiens gaan verloor as hulle langer in Argentinië bly.

Tog gee hierdie film ook ʼn blik op die Afrikaanse gemeenskap in Sarmiento, Argentinië, waar die dag van aankoms herdenk word. Daar word gereeld kuiers gehou as ʼn sosiale klub en die Afrikaanse volksmusiek met die trekklavier as ʼn prominente instrument, word nog lewendig gehou. Enriqueta van der Merwe se spel is besonder roerend.

Enige Suid-Afrikaner sal kan aanklank vind by die boodskap van kultuur en familie wat opsoek is na hul plek in die wêreld.

Anke S. Theron

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *