Welkom by die volgende opwindende hoofstuk van jou lewe!

As jy ʼn eerstejaar is (of ʼn “fresher” is soos ons hulle by UCT noem) wees gerus – hulp is oral om jou. Al is jy by ʼn ander instansie soos die Universiteit van die Vrystaat, CPUT, TUT, Tukkies of Pukke of Stellies, daar is steeds geen rede om bekommerd te wees nie – hierdie blog bevat hulp vir almal. Ek sal probeer om soveel moontlik instansies se webtuistes en hulpbronne te link.

Welkom ook aan die nagraadse studente!

Hierdie blog is nie hier om jou bang te praat nie, maar dinge gaan verander. 80% van jou lewe gaan verander. Verandering maak almal bang en angstig en dit is normaal. Ongelukkig is verandering die enigste konstante aspek van die lewe. Die verskil lê in hoe jy hierdie verandering gaan aanpak en dit is waarmee ek jou wil help.

Ek het reeds die ervaring opgedoen en wil ʼn paar raadgewende brokkies met julle deel. Ek is nie alwetend nie en moet onder geen omstandighede voel my ervaring, móét jou ervaring wees nie.

Wat ek met hierdie blog wil bereik is om advies aan te bied wat ek wens iemand vir my gegee het.

Hier is ʼn paar inleidende aspekte oor wat jy kan verwag wanneer jy na ʼn instansie van hoër onderwys gaan: (blykbaar is dit die nuwe sambreel term vir universiteite ens.)

Tyd

Jy gaan in beheer wees van jou eie tyd. Tyd is dus jou eie én ook nie joune nie, want jy is mos hier om te swot. Klasse sal vasgestelde tye hê en as jy gelukkig is om plek te kry in ʼn koshuis, sal jou etenstye ook redelik vasgestel wees. Buiten vir hierdie aspekte is jy in beheer van hoe laat en hoe lank jy aan take, projekte, essays en studietyd afstaan. In terme van tyd is my beste raad roetine. Gebruik jou skooldae as ʼn raamwerk wanneer jy jou roetine beplan. (Ek sal hieroor ook ʼn hele blog doen en vele links na briljante bronne verskaf) As jy byvoorbeeld gewoond was daaraan om huiswerk te doen tussen 3 en 4 uur in die middag, gebruik dan hierdie selfde tydgleuf om essays te skryf, oefeninge deur te werk of aan take te werk.

Kos

Hierdie aspek gaan definitief ʼn aanpassing verg. Vir dié wat die gerief van ʼn koshuis met etes het – lekker! Maar onthou gesond eet is belangrik vir jou brein, want dit is jou no.1 gereedskap. Andersins gaan jy moontlik op jou eie bly (as jou finansies dit toelaat) of dalk saam met ander studente ʼn huis of woonstel deel. In dié geval is jy verantwoordelik vir jou eie kos en dan is die versoeking reusagtig groot om wegneemetes te koop. Ek sê nie jy mag nie jouself nou en dan bederf met ʼn pizza of so nie, maar die gemiddelde ete moet gesond en gebalanseerd te wees. (Meer hieroor in ʼn volgende blog – glo my gesond eet hoef nie so ʼn mission te wees nie).

Ontbyt is ‘n moet – moenie skip nie !

Vriende

Hieroor hoef jy regtig nie nagte wakker te lê nie. Almal is net so senuweeagtig en bang soos jy en volgens my eerlike ervaring – siele saam in verdrukking is gelykstaande aan toekomstige vriende. Jy sal definitief iemand ontmoet wat belangstel in dieselfde goed as jy. Ja, selfs die absolute nerds en weirdo’s onder ons – ek belowe daar is nog mense wat hou van Harry Potter en Lord of the Rings (en World of Warcraft ens.). Ek het van my beste vriende ontmoet in die registrasie-ry en in die agterste ry van my klasse.

Studies

Vir dié wat vars begin, jy gaan ʼn klompie klasse hê om by te woon. En ja jy hoef nie te gaan nie en in sommige klasse neem hulle nie eers register nie – maar GAAN!!! Op skool was ʼn dag se klas nie ʼn “train smash” nie, maar nou gaan dit voel asof jy ʼn week gemis het. Die pas is vinniger, baie vinniger as op skool. So spaar jouself die onnodige stres en angs en gaan net klas toe.

Voorbereiding kan jou van onnodige verleenthede red …

Nog ʼn ding is voorbereiding. Daar sal nou van jou verwag word om met ʼn bietjie kennis klas toe te kom. Hiermee bedoel ek dat daar ʼn artikel of hoofstuk uit ʼn handboek is wat jy moet lees of ʼn gedig of kortverhaal, dalk ʼn wiskunde of chemie werkstel wat jy moet lees of deurwerk. Hierdie voorbereiding moet verkieslik voor klastyd gebeur, al het jy dit gou gevluglees of selfs ʼn halfuur voor die klas daarna gekyk. Dit gaan jou ʼn hele paar vernederings spaar en jy mag dalk vind jy verstaan die werk beter.

Voorbereiding is vir nagraadse studente baie, baie belangrik. Uit my eie ervaring – dis die belangrikste ding wat jy kan doen! Glo my; jy wil nie soos ʼn komkommer met sonbrille lyk as die lektor jou ʼn vraag vra en jy sit daar met ʼn mond-vol-niks-om-te-sê-nie. Die oplossing is heel eenvoudig – wees voorbereid. Dit bring ons by die volgende ding wat jou lewe gaan red.

Die kurrikulum of sillabus

Elke kursus het een, maak nie saak waar jy studeer nie – daar is ʼn plan en jy het ʼn reg om te weet wat in jou kursus gaan gebeur. In universiteite kan die sillabus gewoonlik in die fakulteit se handboek gevind word en aan die begin van die eerste lesing van die semester, word dit vir jou gegee. Moet ook nie vergeet om op jou instansie se webtuiste te gaan rondsnuffel nie. Meeste universiteite, tegniese instansies en kolleges het ʼn interne webtuiste waar al die inligting vir studente geplaas word. Tegnologie het baie meer sentraal geword in ons onderwys stelsel (veral in die laaste 5 jaar). Jy moet net gaan soek.

Dit is al vir eers. Laat weet gerus waaroor julle raad en advies soek.

Groete!

 

 

0 thoughts on “Welkom by die volgende opwindende hoofstuk van jou lewe!

  1. Baie oulike raad. Ek was destyds nie ‘n baie goeie student nie en ietwat ongeorganiseer, maar Klas Bywoon het my gehelp om vandag ‘n graad te hê. Ek glo dat jy al ‘n goeie klomp kennis bymekaarmaak net deur elke klas by te woon.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *