#1 Hoe om daai 1ste GROOT opstel te skryf

Dit is nou al ʼn maand vandat jy met klasse begin het en jy het nou al 3 of meer opstelle of opdragte om te skryf. Of dalk moes jy al van jou eerste opdragte ingehandig en jou terugvoering was ietwat aan die vrot kant.

Jy begin stadig maar seker agterkom dat jou skoolkennis jou nie ver gaan bring in hierdie plek nie en jy moet hulp soek.

Dan is ek bly jy is hier, want die oplossing is dalk makliker as wat jy dink. Jy moet net so ʼn paar aanpassings maak aan jou bestaande kennis. Laat ons wegspring!

Skoolkennis

Skoolkennis is nie niks werd nie, dis dalk min werd maar nie niks nie. Onthou jy daardie keuses van verskillende soorte opstelle wat jy in matriek geskryf het? Beredenerende, verhalend, beskrywend, ʼn resep of vriendskaplike brief? Lui dit ʼn klokkie? Noudat jy akademiese opstelle moet skryf, gaan jy moet spesialiseer in beredenerende en argumenterende opstelle.

Jou ou resep van Inleiding, Lyf en Slot werk steeds, maar jy sal dit moet verfyn en uitbrei. Hier volg enkele riglyne:

Inleiding

Jou inleiding moet jou opstel kan opsom. Jy kan omtrent 1 sin gebruik om jou leser se aandag te trek, hoogstens 2 sinne. Daarna moet jy duidelik jou probleemstelling, vraag of argument bekend stel. Wat ondersoek, bespreek, vergelyk of probeer jou opstel bewys? Laastens moet jy in opstel basies uiteensit. Gaan jy eers ʼn teorie bespreek en terme verduidelik en dan dit met ʼn voorbeeld toepas? Byvoorbeeld:

Waaroor sou Shakespeare skryf in die 21ste eeu? Dit is die onderstreepte vraag binne die literatuuronderwys in Suid-Afrika en wat in hierdie opstel ondersoek sal word. Is Shakespeare se drama’s en poësie nog relevant in die moderne Suid-Afrikaanse hoërskool konteks?

Eerstens sal ʼn oorsig van Shakespeare se werk gegee word en wat die algemene waarde daarvan is binne die breër letterkunde. Daarna sal die kontemporêre hoërskool konteks ondersoek word, waarna bepaal sal word of Shakespeare se tekste steeds ʼn doel het in Suid-Afrikaanse skole.

Lyf

Hier lê die braaivleis van jou opstel, die inleiding en slot is net die slaai en braaibroodjies.

  1. Hier moet jy jou argument of hipotese (wetenskap) breedvoerig uitlê vir die leser.
  2. Nou moet jy artikels, boeke en ander navorsingtekste gaan lees om ondersteuning vir jou argument te kry.
  3. Laastens is dit altyd goed om jou teorie, argument en navorsing bymekaar te bring met voorbeelde om te verduidelik of toe te pas. Byvoorbeeld:

Die relevansie van Shakespeare in die hedendaagse hoërskool konteks sal ondersoek word.

Dit sal help as ek ʼn onlangse roman, drama of gedig vergelyk met een van Shakespeare sʼn, asook dalk die leerders se reaksie op die verskillende tekste.

Deur toepassings in jou opstel te gebruik, wys jy vir die leser dat jy konsepte en argumente in gesprek kan bring met die werklikheid. Jy kan dus jou kennis toepas in werklike situasies.

ʼn Goeie formule om te volg is; eers teorie en dan verduidelikings en voorbeelde. Op hierdie manier stel jy die leser bekend aan terme en konsepte en maak dit dan toepaslik op voorbeelde.

Slot

Hierdie gedeelte is die maklikste, want die groot werk is nou klaar.

  1. Nou herhaal jy die probleemstelling en hoe dit deur die loop van die opstel opgelos of beantwoord is.
  2. Belangrik! Wys op probleme, tekortkominge en beperkings. Dit wys vir die leser jy het daaraan gedink. Veral deur te noem dat daar aspekte is wat nie in die opstel bespreek is nie, as gevolg van beperkinge soos woordtelling of tyd (nie omdat jy dit tot die laatste gelos het nie, maar dalk in die geval van eksperimente wat tyd neem om resultate te lewer).

Bibliografie

Op tersiêre vlak is hierdie aspek baie belangrik. Elke departement en universiteit het gewoonlik hul eie voorkeur styl/konvensie. Die volgende plasing sal meer in-diepte gaan oor hierdie aspek van jou opstel, maar net as ʼn raamwerk die volgende:

Daar is verskillende konvensies om verwysing te formateer. Jy gaan verwysings in jou teks gebruik deur na iemand se idee of woorde te verwys en daarna die volledige verwysing in jou bibliografie gee. Byvoorbeeld:

Volgens die Harvard konvensie: (binne die teks)

“Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het onlangs in antwoord op vrae in die parlement oor die dekolonialisering van onderwys gesê die werke van William Shakespeare is een van die aspekte in die algehele hersiening van letterkunde in die nasionale kurrikulum” (Küsel, 2017:6).

 

In die Bibliografie:

Küsel, A. (2017) “Niks meer Shakespeare in skole?”, Die Burger. bl. 6

Die algemeenste konvensies is: Harvard, MLA, APA of Chicago. Dit is name wat toegeken word aan style en konvensies vir hoe ʼn verwysing geformateer moet word.

Meer hieroor in die volgende blog.

Groete 😉

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *