Die Deug van Ink …

Hierdie boek bied ongetwyfeld iets nuuts vir die klassifisering van prenteboeke. Buiten die postmodernistiese aard kan dit gebruik word om ʼn leeskultuur by jongkinders te bevorder.

Dit is postmodernisties van aard omdat Ink handel oor ʼn boek binne ʼn boek.

Dié boek is skrywer, Ingrid Mennen, en haar dogter, Irene Berg, se tweede projek saam. Hul eerste kinderboek as span was, Ben en die walvisse (2012). Ben en die walvisse het onder andere die M.E.R prys vir beste geïllustreerde boek in 2013 ontvang, asook die gesogte Tienie Holloway medalje vir kinderliteratuur in 2015. Ink bou voort hierop en is nog ʼn suksesvolle projek wat ʼn kwaliteit boek opgelewer het.

Die illustrasies is pragtig en werk goed saam met die tema van koerante en die geskrewe medium. Daar is van gemengde mediums gebruik gemaak wat bydra tot die skep van tekstuur. Dit maak die boek tasbaar vir die leser – die koerant lyk so werklik.

Die boek is ʼn lekker grootte vir jongerlesers om te hanteer en is nie te groot of swaar nie.

Ink is ideaal kinders wat tussen voorlees en selflees staan en die teks is bevorderlik vir leerprosesse soos tel, spel en lees.

Die inleiding stel kinders voor aan die formaat van meer gevorderde leesboeke met individuele hoofstukke. Die boek begin eenvoudig met enkele woorde en die sinne en paragrawe groei soos die boek vorder. Hierdie benadering bevorder die ontwikkeling van leesvaardighede, wat dit ideaal maak vir kinders wat leer lees en nog steeds kan baat by ʼn ouer of volwassene se hulp.

Hierdie boek is só geskryf dat dit vir beide die kind en die volwasse voorleser, ʼn eiesoortige leeservaring kan bied. Die interessante element is die postmodernistiese aard van die teks wat die volwasse leser sal betrek. Daar word baie fyn met die stylverskynsels van postmodernisme gespeel.

Hierdie is Ink (2016) se treffendste eienskap, omdat teoretiese konsepte soos postmodernisme nie gewoonlik eksplisiet in prenteboeke gebruik word nie. In hierdie geval is dit baie effektief, maar eers ʼn vlugtige oorsig van Postmodernisme en wat die stylverskynsels daarvan behels.

Postmodernisme is ʼn kunsbeweging wat gemoeid is met selfbewustheid. Hambidge gee ʼn kompakte verduideliking van wat die postmodernisme behels:

ʼn Kunsbeweging wat die grense van die kunsmedium ondersoek, (her)definieer en verironiseer. Die parodie is stellig die uiterste vorm van die postmodernisme, aangesien dit by uitstek die leser/kyker attent maak op beperkinge én vindingrykheid van ʼn bepaalde stelling.   (Hambidge 1995: 9)

Hambidge wys verskillende stylverskynsels uit wat as leidrade dien vir die leser om ʼn teks as postmodernisties te klassifiseer. Hierdie stylverskynsels word dan funksioneel gebruik om met die leser se aandag “te speel”.

Eerstens word daar breedvoerige gebruik gemaak van intertekste. Sodoende word die leser betrek as aktiewe rolspeler. Die leser moet die verbindings maak tussen die verskillende tekste en betekenisse daarin raak sien. In Ink se geval sal die ingeligte leser sien dat Tinka ook ʼn kopie van Ben en die walvisse (2012) besit. Ons sien ook dat sy vir Ink uit die bladsye van Die Burger knip.

Selfrepresentasie is sekerlik die duidelikste stylverskynsel. Die postmodernistiese teks maak die leser spesifiek bewus van ʼn teks se tekstualiteit en dat die verhouding tussen fiksie en realiteit problematies is. Postmodernistiese tekste is daarom selfverwysend en verwys na hulself as teks en die teks as ʼn verteenwoordiging van ʼn enkele waarheid of werklikheid.

Ink bewerkstellig hierdie stylverskynsel baie duidelik en suksesvol. Eerstens is die titel en karakter Ink verbind tot woorde, teks en taal. Die feit dat Tinka besluit om haar afgetrekte maat Ink te noem en dat sy uit koerantpapier bestaan, onderstreep die selfreferensie van die boek as ʼn teks. Wat lei tot die stylverskynsel van dekonstruksie.

Postmodernisme bevraagteken hiërargieë en ordes (Hambidge 1995:11). Hiermee saam word die grense van ordening bevraagteken deur vrae te vra, soos wie is die skrywer? Is Ingrid Mennen die skrywer of Tinka en wie is dan die karakter? Hierdie tipe dekonstruksievrae word bevorder deur die genre eienskappe van ʼn prenteboek, waar daar baie min tot amper geen teks is om te analiseer nie. Die prente word dan deel van die teks.

Die grense tussen die werklikheid en die fiktiwiteit van die boek word dus bevraagteken.

Die outoriteit van die skrywer word ook in twyfel getrek en vorm die middelpunt van die boek. Is Tinka of Ingrid Mennen die skrywer, want Tinka lees aan die einde ook ʼn boek getiteld Ink. Hierdie aspek wys ook terug na die selfreferensie van ʼn postmodernistiese teks asook waar die grense tussen werklikheid en fiktiwiteit lê.

Laastens is die postmodernisme se gunsteling stylverskynsel die parodie. ʼn Parodie is die gebruik van ʼn bestaande teks waarop iemand anders grappige ironiese kommentaar lewer. Die populêre gebruik van “meme’s” op die internet is ʼn goeie kontemporêre voorbeeld, want ʼn eenvoudige foto of grafika word uit die oorspronklike konteks gehaal en daar word kritiek of kommentaar daarop gelewerr binne die raamwerk van ʼn nuwe konteks.

Tinka gebruik koerantpapier om vir Ink te maak en sy neem vir Ink oral, sy is selfs ʼn gas tydens aandete. Volgens Tinka is haar nuwe maat werklik. Tinka meld ook dat Ink nie mag nat word nie, al is sy vuil (Mennen, 2016). Ten einde word Ink ʼn boek, dalk die selfde doek wat die leser lees. En waar laat dit die grense van werklikheid teen oor fiktiwiteit? Is Ink dan nie werklik, omdat sy ʼn boek word nie?

Hierdie postmodernistiese stylverskynsels funksioneer baie goed binne die raamwerk van ʼn kinderboek, omdat dit verbeeldingsvlugte aanwakker maar ook grond in ʼn werklikheid. Dit wil sê die werklikheid van die boek, maar ook die fiktiwiteit.

Ten slotte is Ink nie net ʼn oppervlakkige prenteboek nie, maar ontgin die gebruik van postmodernistiese stylverskynsels suksesvol. Hierdie boek is beslis geskik om ʼn leeskultuur tuis te skep, wat dit die ideale geskenk maak vir kinders wat hierdie jaar “grootskool” toe gaan en leer om te lees.

 

Resensie deur Anke S. Theron  –  Soos verskyn op LitNet  LitNet Resensie – Ink (2017)

 

Bibliografie

Hambidge, J. (1995) Postmodernisme, Pretoria: J.P. van der Walt.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *