Internasionale geletterdheidsdag!

Kom ons lees!!!

Vandag is Internasionale geletterdheidsdag! 7 September – 13 September is Nasionale Boeke week en wat beter om die geleentheid mee te vier as boeke en boeke en nogmaals boeke!

Sedert ek my passie vir boeke en spesifiek kinderboeke ontdek het, voel ek dit is belangrik dat elke kind ten minste een boek van sy of haar eie moet besit. Amper elke vriendin wat kinders het weet by Tannie Anke gaan jy ‘n boek(e) kry vir elke moontlike geleentheid. Die rede vir my passie is – boeke maak wêrelde oop.

Boeke is wêrelde!

Boeke het die magiese krag om jou as leser weg te voer na ʼn wêreld waar jy nie net ʼn toeskouers is nie – soms wel, maar dit is gewoonlik met goeie rede (rillers en misdaad fiksie) – Jy is deel van die storie. Daar word soms aangeneem dat kinders nie deel kan wees van hierdie wonderlike ervaring wat boeke bied nie – bog!

Op daardie noot… LAPA bring binnekort Die Ickabog in Afrikaans uit! Nog ‘n lekker storie en onthou om hulle op sosiale media te volg, want hulle is op soek na ‘n Ickabog…

Twitter       Facebook       Instagram

Jy kry die kans van ‘n leeftyd om jou illustrasie van die ontwykende, legendariese Ickabog vir ewig in J.K. Rowling se boek te sien!

Gaan skryf hier in: https://www.ickabogkompetisie.co.za/kompetisie/

Vir daaglikse inligting: https://www.instagram.com/lapa_uitgewers/?hl=en

Elke kind verdien om te leer lees en om die genot van lees te ervaar. As ons net die “gerief” van Netflix kan vervang met die gerief van ‘n boek – onthou hulle werk steeds wanneer die ligte afgaan.

Maritha Snyman het reeds in 2006 in haar studie oor die leesgewoontes van Afrikaanse kinders die onderliggende probleem uitgewys; kinders neig om lees en boeke met skool en huiswerk te assosieer. Hulle sien lees as huiswerk, ‘n taak of as nog iets op hulle lys van verpligtinge. Lees is nie vir hulle die plesier en ontvlugting wat die boekwurms onder ons die beskou nie. Kinders voel lees is ‘n verpligting en verantwoordelikheid van ‘n ommeswaai van hierdie assosiasie lê by elke volwassene, of ouer boetie of sussie, ouma of oupa of tannie of oom wat kan lees – om lees vir kinders lekker te maak. Elke generasie het die verantwoordelikheid om vir die generasie na hulle te wys dat boeke en stories lekker is. Al beteken dit dat jy vir die seerower ‘n dik aksent moet aanplak of bietjie moet grom soos ‘n beer as jy vir Gouelokkies lees.

Van my gelukkigste herinneringe is van my ouma of ma wat vir my stories leest. Die Brombeer het so ‘n lekker diep lag gehad en ons het al te lekker aan die 101 Dalmatiese honde getel. En natuurlik die varkie en die blinkblaarboom!

Elke kind verdien om gelukkige herinneringe te koester aan die stories en boeke wat vir hulle of deur hulself gelees word. Daarom is Internasionale Geletterdheidsdag baie belangrik om die wonderlike geskenk van lees te bevorder.

Fluit-fluit, my storie is uit!

 

 

 

Verwysings:

Snyman, M. 2006a. “Die Leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse Kinders”. In Mousaion. 24(1): 145-179.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *