Speurhond Willem

Willem is nie ‘n gewone hond nie. Hy is n speurhond! En die 12-jarige Adriaan is sy mens.

Hierdie boek is ‘n avontuur wat jou reggoor die wêreld neem en daar is 3 lekker stories, almal in 1 boek. Speurhond Willem is die eintlike rede waarom ek teen uur 10 van die 48 uur uitdaging, nog nie klaar gelees was aan die aanvanklike 4 boeke nie.

Willem is ‘n baie interessante karakter. Hy het ‘n tikkie James Bond in hom en die geheimsinnigheid van ‘n ware spioen. Hy kan slim planne beraam en word op sy eie manier nogal lief vir sy mense. En dan lees hy nog koerant ook – ‘n Speurhond moet weet wat in die wêreld aangaan.

1. Speurhond Willem op reis

Ons ontmoet vir Willem waar hy ‘n reis beplan, maar Adriaan weet net die nodigste. Hulle gaan regoor Europa reis om iets baie kosbaar terug te besorg wat die bose Bremmel vir eiegewin gesteel het. Langs die pad kom hulle ook ‘n heks teë… of was dit? Jy sal maar self moet lees om uit te vind.

2. Speurhond Willem en die seerowers

Adriaan se ma het ‘n lekker prys gewen! ‘n Bootreis na Mauritius. Willem is op ‘n missie oor seerowers en hy dink hy moet maar die Senekals vergesel net ingeval. En so seker soos pada manel dra, daar word hulle boot oorval deur seerowers – maar waar en wat is die skat?

3. Speurhond Willem en die wilddiewe

Willem is nie net ‘n Speurhond vir die internasionale diens nie, maar kan ook vir die lastige wilddiewe ore aansit. Die skuldige is iemand uit Willem se verlede en alles is nie soos dit lyk nie. Gaan lees self wat gebeur met die renoster op Tannie Lolla se wildsplaas in die bosveld.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *